Só kan jy voorberei vir die NK-brandseisoen
Die Noord-Kaap is bekend vir sy sterk Augustus-winde, wat normaalweg gepaardgaan met grootskaalse
wegholveldbrande. Die 2022-brandseisoen was uitermatig lank en het na raming 300 000 hektaar in dié provinsie
verwoes. Agri Noord-Kaap se Janine Byleveld (Bedryfsbeampte: Ekonomie, Handel en Natuurlike Hulpbronne)
verduidelik Agri Noord-Kaap se betrokkenheid met die voorkoming en bewusmaking gedurende hierdie seisoenale
brande.
“Die Noord-Kaapse Sambreel-brandbeskermingsvereniging (NKSBBV) was die afgelope klompie jaar dormant, maar
nuwe energie en die behoefte aan verbeterde prosesse het gelei tot ʼn herlewing van die vereniging. Sarel de Wet is
onlangs amptelik tot voorsitter verkies en hierdie vereniging sal vorentoe outonomies funksioneer in samewerking
met plaaslike owerhede, georganiseerde landbou en die Provinsiale Sentrum vir Rampbestuur,” sê Byleveld.
Elke distrik in die Noord-Kaap is enig in sy soort en ʼn goeie struktuur help om effektief te wees. “Die wiel met
brandbestryding in die provinsie is alreeds ontwerp en elke distrik is uniek met sy eie uitdagings. Die struktuur van
die NKSBBV is ʼn poging om kommunikasie en verspreiding van inligting te bevorder, soos byvoorbeeld die
Brandgevaar-indeks wat daagliks deur die Nasionale Weerburo uitgereik word, maar ook om die reaksietyd in gevalle van wegholveldbrande te bespoedig en skadebeperking te verbeter.”
Te danke aan drie agtereenvolgende nat siklusse, is daar verskeie oorwegings om in ag te neem wanneer beheerde
brande uitgeoefen word. Opvolgreën is volgens Byleveld krities ná ʼn veldbrand. “Die Noord-Kaap is ʼn unieke
provinsie met vele uitdagings, veral met betrekking tot landbou-aktiwiteite en broodnodige reënval. Goeie reëns op
die regte tydstip bring altyd welkome verligting, wat lei tot goeie plantegroei en die bevordering van
weidingskwaliteit. Gewasprodusente beoefen in hierdie gevalle beheerde brande uit om produksie te verbeter, maar
ʼn veldbrand is uiteraard ʼn veeprodusent se grootste vrees. Indien tydige reën vir hierdie produsente afwesig is, is die
kommer daar dat die weiding nie volkome kan herstel nie, wat daardie plaas se produksie-doeltreffendheid
benadeel.”
Wenke om jouself teen moontlike veldbrande te beskerm
- Produsente moet vroegtydig die nodige brandstroke maak en in stand hou. Die wet vereis om hierdie
brandstroke reg rondom jou grond in stand te hou. - Sluit aan by jou plaaslike brandbeskermingsvereniging om die nuutste inligting en klimaatswaarskuwings te
ontvang. - Skaf die nodige brandbestrydingstoerusting aan, en verseker dat dit in ʼn werkende toestand is om op kort
kennisgewing effektief aangewend te kan word. - Verminder brandbare materiaal rondom jou woning en opstalle. Onkruid en bosse moet verwyder word, en
produsente moet seker wees dat alle petroleumprodukte op ʼn veilige plek gestoor word. - Verskerp jou kennis en vaardigheid deur brandopleidingsessies by te woon en aktief aan oefeninge deel te
neem. - Dit is meer voordelig met veldbrande om pro-aktief, eerder as reaktief, op te tree.
Die Provinsiale Sentrum vir Rampbestuur speel ʼn belangrike rol in die bekamping van wegholveldbrande. Byleveld
noem verder dat die distriksmunisipaliteite oor toerusting beskik wat deur opgeleide personeel en vrywilligers
aangewend word. “In gevalle van wegholveldbrande word die situasie deur die struktuur geëskaleer tot op
provinsiale vlak waar die behoefte vir lugsteun vasgestel word. Indien lugsteun geaktiveer word, verskuif die
jurisdiksie en koördinasie na die Provinsiale Sentrum vir Rampbestuur en die plaaslike brandbeskermingsverenigings vervul dan ʼn ondersteuningsfunksie. ”
AgriSA bied jaarliks brandseminare aan om die nuutste regulasies te bespreek, terwyl Agri Noord-Kaap ook ʼn niewinsgewende organisasie op die been gebring het. “Agri Noord-Kaap het tot op hede geen finansiële hulpmiddels
van die nasionale regering ontvang wat tot voordeel van die produsent aangewend kan word nie. Die behoefte vir
onmiddellike hulp aan die produsent was deur Agri Noord-Kaap vasgestel en ʼn nie-winsgewende organisasie is op
die been gebring. Die Agri Northern Cape Foundation is afhanklik van donasies om produsente in nood by te staan in die vorm van veevoer (reaktiewe hulp) en pro-aktief op te tree om brandopleidings en toerusting te subsidieer.”
Kontakbesonderhede van die Agri Northern Cape Foundation is:
- 053 832 9595
- info@agrinc.org.za
- https://agrinc.org.za/
Produsente wat hulself met die nodige kennis en opleiding wil bemagtig, is welkom om van die volgende
diensverskaffers gebruik te maak:
- Kishugu Training (Pty) Ltd: Nelspruit, South Africa 064 993 2890 | 013 744 9328 | training@kishugu.com |
besoek Kishugu Training op Facebook - Freestate Umbrella Fire Protection Association (FSUSPA), admin@fsufpa.co.za | 074 467 4450
Produsente kan hierdie onderskeie brandbeamptes se kontakbesonderhede byderhand hou:
- John Taolo Gaetsewe-distrik: JP Rossouw 082 415 2660 | rossouw@taologaetsewe.gov.za
- ZF Mgcawu-distrik: CB van der Merwe 083 243 7601 | coenievdmerwe@gmail.com
- Pixley Ka Seme-distrik: Sarel de Wet 082 524 9152 | bbb@pixleybbv.co.za
- Frances Baard-distrik: Cliffie Jones 083 675 7793 | cliffie.jones@fbdm.co.za
- Namakwaland: Leon Vermeulen 084 511 7481 | leonv@namakwa-dm.gov.za