Druiweprodusent lei nuwe generasie
Foto: Facebook/Agri SA.
“There is one culture that unites us in South Africa, and that is agriculture.” – Francois Rossouw
Elke jongboer-finalis wat wys waartoe Suid-Afrika se nuwe generasie produsente in staat is, word met trots deur die VKB Groep gevier. Danksy Toyota SA/AgriSA se Jongboer van die Jaar-kompetisie, kry dié jong produsente van regoor die land erkenning vir hul innovasie, leierskap en volhoubare boerderypraktyke. Die indrukwekkende finaliste is elk in eie reg ‘n leier in hul gemeenskap en spesialis in hul sektor.
Nege jongboere, maar een titel
“Al die finaliste en jongboere hier is uitstaande leiers in hul provinsies en gemeenskappe, so dit is vir my ‘n nederige eer om hierdie toekenning te ontvang. Ek is ongelooflik dankbaar, veral vir ons span by die huis wat my ondersteun en my die ruimte gee om te boer en my passies te volg. My familie en my vrou speel ook ‘n sentrale rol in hierdie reis, en ek waardeer hulle steun opreg,” sê Francois Rossouw Jnr., druiweprodusent van De Doorns in die Hexriviervallei.
Rossouw is pas aangewys as die 2025 Toyota SA/Agri SA Jongboer van die Jaar, en hy verpersoonlik die nuwe generasie produsente wat tradisie met vooruitdenkende strategiese besluite in volhoubaarheid, tegnologie en mensegesentreerde bestuur kombineer.

Francois Rossouw is aangewys as Toyota SA/AgriSA Jongboer van die Jaar 2025.
Met tradisie as agtergrond
Op Mooigezicht Estates, ‘n familieplaas waar vier generasies al in die tafeldruifbedryf boer, bestuur Rossouw sowat die helfte van die 400 hektaar produksiegrond. “Ek het as produksiebestuurder begin. Aanvanklik was dit uitdagend, maar ek het baie geleer deur voltyds betrokke te wees. Dit het my goed gedoen om onder te begin en prakties te verstaan wat elke produksieverantwoordelikheid behels.
“Min of meer die helfte van die plaas se aktiwiteite val nou onder my bestuur – dit sluit aspekte in soos dag-tot-dag take, die bestuur van chemiese programme, spuit- en waterbestuur, begrotingsbeplanning en personeelbestuur, met alles wat daarmee saamgaan. Ek het ook verantwoordelikhede ten opsigte van strategiese beplanning as deel van Mooigezicht se direksie. Ons oorhoofse doelwit is om volhoubaar produkte van die hoogste gehalte teen die winsgewendste pryse aan die mark te lewer,” som hy sy rol op.

Francois Rossouw Jnr, saam met sy pa, Francois Rossouw. (Foto: Facebook/ Mooigezicht Estates)
Mooigezicht se toekoms
As boorling van De Doorns het hy tussen die wingerde grootgeword en sy laerskoolloopbaan daar voltooi, waarna hy Hoërskool Stellenbosch toe is. Hy het sy honneursgraad in landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, wat hy nou kombineer met gevorderde tegnologie om produksie doeltreffend en volhoubaar te bestuur.
“In 2018 het ek ‘n paar maande gebruik om ‘n wyer perspektief op die bedryf te kry – ek het kliënte in China besoek, al die afdelings van ons onderneming deurgegaan, en tyd spandeer by ‘n kultivarteler in Kalifornië, waar baie van ons kultivars vandaan kom.”
Mooigezicht se verskeidenheid kultivars – van Crimson Seedless tot Sweet Globe en Autumn Crisp – stel die boerdery in staat om risiko te versprei en marktoegang wêreldwyd te verleng. Die lang seisoen in die Hexriviervallei beteken dat hulle druiwe van week 50 tot week 16 of 17 kan pak en uitvoer, wat Suid-Afrika se naam as ‘n betroubare internasionale druiweverskaffer versterk.

Die ingang na Mooigezicht, waar die regte hoeveelheid koue-eenhede elke winter verseker dat die tafeldruiwe hul volle gehalte ontwikkel. (Foto: Facebook/ Mooigezicht Estates)
Tegnologie en presisie in elke tros
Presisieboerdery speel ‘n sleutelrol, van water- en kunsmistoediening tot die beheer van spuitprogramme, alles bestuur met digitale stelsels en GPS-koördinate.
“Presisieboerdery is belangrik omdat ons baie intensief boer en ‘n komplekse bestuurstelsel gebruik wat talle faktore in ag neem. Ons het baie mense in diens, en as jy besef dat tussen 50 000 en 60 000 trosse druiwe per hektaar tussen vyf en sewe keer deur mensehande hanteer moet word vóór dit geoes word, besef jy dis ‘n reuse-taak. Tydsberekening is ongelooflik belangrik,” sê hy.
“Om produksiepraktyke voortdurend te verbeter, moet ‘n mens op hoogte bly van nuwe kultivars, die nuutste en korrekte tegnieke, en seker maak dat dit reg deur die onderneming toegepas word. Dit is van kardinale belang om die gaping tussen kennis en praktyk in presisieboerdery te oorbrug. Ons doen dit deur sterk op tegnologie staat te maak.”
Mense, ons grootste hulpbron
Rossouw beklemtoon ook die belangrikheid van mensebestuur. “My vrou, Jean-Mari, is ‘n arbeidsterapeut en speel ‘n belangrike rol in die maatskaplike ontwikkeling van ons werknemers. Sy help met die bestuur van fasiliteite vir voorskoolse kinders, kinder- en tienerklubs, leesgroepies en ‘n koffiekroeg vir die werkers, en lewer arbeidsterapiedienste soos nodig.
“Ons mense is ons grootste hulpbron. Om hulle op te lei en te ondersteun is net so belangrik soos tegnologie om volhoubare produksie te verseker,” sê hy.
Met ‘n seisoenale werksmag wat tot 2 000 mense kan insluit, beklemtoon hy die belangrikheid van hul arbeidsmag. Hy glo dit is een van die mees kritieke aspekte van druiweboerdery, veral gegewe die regulasies, wetgewing en voortdurende opleiding. Volgens hom is mensebestuur noodsaaklik vir sukses.

Mooigezicht Estates se verpakking- en versendingsfasiliteit is ’n toonbeeld van doeltreffendheid. (Foto: Facebook/ Mooigezicht Estates)
Deur mentors gemotiveer
Rossouw word gemotiveer deur die mentors wat oor sy pad gekom het. “Ek was bevoorreg om vir ‘n paar jaar saam met my oupa te kon werk en sy aanslag te leer verstaan. Dieselfde geld my pa se vermoë om ‘n familie-onderneming in die tafeldruifbedryf bymekaar te hou.
“Hulle het my geleer om hardwerkend te wees en planne te beraam, en my gemotiveer om selfs onder die moeilikste omstandighede positief te bly en ‘n groot span werkers te motiveer.
Jongboere moet betrokke bly
Rossouw is van mening dat kennisdeling binne georganiseerde landbou en die oordrag van vaardighede aan die volgende geslag noodsaaklik is om ‘n mededingende, volhoubare bedryf te bou. “Boere word al ouer en daar is baie kennis en vaardighede wat na die nuwe geslag oorgedra moet word; dit is ons verantwoordelikheid om jongmense betrokke te hou sodat die kennis nie verlore gaan nie.
Hy glo dit is belangrik om jongboere positief te hou en ‘n voorbeeld vir ander te wees. “Hierdie geleentheid, en al die kontakte wat ek die afgelope paar maande opgebou het, help my om die fondament te lê vir ‘n leierskaprol onder jong boere in Suid-Afrika. Ek sal my bes doen om die waardes van verantwoordelike, volhoubare en vooruitdenkende boerdery uit te dra en ander te inspireer.”
Bronne:
1) grondtotmond.com/Danie Keet
2) landbou.com/Alani Janeke
3) ProAgri








