Begroot in landbou: Hoekom en hoe?

Hierdie is die eerste van ʼn reeks artikels oor landboubegrotings, hoekom dit belangrik is en watse tipe begrotings is daar in ʼn boerdery.
Eerstens moet die vraag gevra word: wat is ʼn begroting? Volgens die Wes-Kaapse Graad 7 EBW kurrikulum word ʼn begroting as volg gedefinieer: ʼn Plan van hoe om beplande inkomstes te bestee. Die besigheid beplan vooruit waar om sy inkomstes te kry en hoe hy dit gaan bestee (op bv. uitgawes). (Government, 2020)
Uit dié definisie is dit duidelik dat ʼn begroting te doen het met beplanning en strategie vir die besigheid oor hoe hulpbronne (inkomste en ander bates) bestuur en bestee (uitgawes) gaan word.
ʼn Breër definisie vir ʼn begroting in landbou is: ʼn Program wat die basiese inligting gee om landboubestuursbesluite te neem. ʼn Begroting is ʼn geskrewe program vir toekomstige aksies uitgedruk in fisieke en finansiële hoeveelhede en is betrokke in die koördinering van hulpbronne, produksie en besteding.
Hierdie beplanning laat ʼn besigheid toe om toekomstige risiko’s te identifiseer en selfs te vermy. ʼn Begroting moet nie gesien word as set in stone nie en moet oop wees vir verandering en moet gesien word as ʼn bestuurshulpbron.
Aannames is belangrik in begrotings en moet gemaak word om begrotings te voltooi. Aannames sal gemaak moet word oor veranderlikes in ʼn bedryf; in landbou is dit byvoorbeeld opbrengs, graanpryse, dieselpryse, rentekoerse, ensovoorts.
Dit is ook goed om verskillende scenario’s te begroot soos:
- High-road begroting: Optimistiese scenario
- Lang termyn en verwagte begroting: Begroting geneem op langtermyninligting van die besigheid en wat gemiddeld is
- Low-road begroting: Pessimistiese scenario
In landbou kry ʼn mens ook verskillende tipe scenario’s wat elk hulle eie rolle dien:
- Bedryfsvertakkingbegroting: Begroting gefokus op ʼn sekere gewas of vee in die landboubesigheid, byvoorbeeld ʼn boerdery se begroting op mielies aangeplant. Bedryfsvertakkingbegrotings is nodig voordat verdere begrotings gedoen kan word.
- Plaasbegrotings: ʼn Begroting van ʼn plaas in ʼn volledige produksieseisoen; dit bevat alle inkomstes en uitgawes vir die plaas in ʼn produksietydperk.
- Gedeeltelike begroting: ʼn Begroting wat na klein veranderinge kyk in die groter produksieprentjie, byvoorbeeld om ʼn stroper te huur of te koop.
- Kontantvloeibegroting: ʼn Begroting wat fokus op die vloei van geld in die boerdery in ʼn produksieperiode. Die doel van so ʼn begroting is om ʼn boerdery se kontant- en kredietverpligtinge te bepaal, sowel as die boerdery se terugbetalingsvermoë.
(Louw, 2024)
In die volgende paar Kommuniek-uitgawes sal daar meer in diepte na die bogenoemde vier begrotings gekyk word.
Navrae kan gerig word aan:
*Bronne:
- Government, W. C., 2020. Graad 7 EBW: Beplanning en voorbereiding, Cape Town: Western Cape Government.
- Louw, G., 2024. Finance and Farm Management. 7th ed. Johannesburg: Standard Bank Agribusiness SA.
*Hooffoto: Freepik