Kuberveiligheid: Beskerm jouself só aanlyn
Min mense kan hul lewens deesdae sonder rekenaars, slimfone en soortgelyke toestelle indink. Dit is amper onmoontlik om ʼn dag deur te bring sonder om die een of ander vorm van tegnologie te gebruik, of dit nou vir werk, persoonlike redes of bloot ontspanning is.
Hoewel tegnologie in ons besige moderne lewens onmisbaar is, stel dit ons ook bloot aan verskeie gevare wat baie mense verkies om bloot te ignoreer. Moenie! Kommuniek het gaan aanklop by die Inligting- en Tegnologiespesialiste van GWK en VKB vir raad. Hulle deel ʼn paar maklike kuberveiligheidswenke:
Algemene veiligheid
In die eerste plek is dit belangrik om altyd jou toestelle op ʼn veilige plek te bêre wanneer jy dit nie gebruik nie. Maak ook seker dat jy sterk wagwoorde kies wanneer jy dit vir toestelle of toepassings nodig het. Hierdie wagwoorde moet kompleks genoeg wees dat kuberkrakers dit nie sommer sal kan uitpluis nie. Moet ook nooit jou wagwoorde neerskryf of met iemand deel nie.
Laastens, maak seker dat jy nooit persoonlike data oor sosiale media-platforms aan mense of instansies stuur nie. Dit sluit in besonderhede soos jou adres, telefoonnommer, of finansiële inligting, wat deur kubermisdadigers misbruik kan word.
E-pos-veiligheid
Vir e-pos-veiligheid is dit belangrik om seker te maak dat jy die persoon ken wat enige betrokke e-pos aan jou gestuur het, of dat dit wel van ʼn instansie is wat jy ken en vertrou. Beoordeel of die e-pos relevant is vir jou en of jy dit verwag het. Let ook op die grammatika en taalgebruik in die e-pos, aangesien skelms dikwels spelfoute maak of oordrewe formele taal gebruik. Voordat jy op enige skakels in die e-pos klik, rus eers met jou pyltjie op die skakels om die besonderhede te kontroleer. Wees veral versigtig vir e-posse wat jou vra om op skakels te klik om toegang tot dokumente te kry.
Onthou ook dat banke of ander instansies jou nooit sal vra om jou gebruikersnaam en wagwoord via e-pos of ʼn sosiale platform te bevestig nie. Jy sal wel soms jou ID-nommer moet intik om toegang tot dokumente te verkry.
As ʼn e-pos onmiddellike aksie vereis, soos ʼn betaling of die verstrekking van sensitiewe inligting, verifieer die egtheid daarvan deur eers die afsender regstreeks te kontak. Wees eerder oorversigtig!
Internetgebruik
Wanneer jy op ʼn skakel na ʼn webwerf klik, maak altyd seker die adres is korrek gespel en behoort aan ʼn amptelike webwerf. Skelms sal soms vals webwerwe skep, met name wat amper dieselfde lyk, om jou om die bos te lei. Waar die korrekte adres byvoorbeeld gwk.co.za is, kan die internetskurk dalk gkw.co.za skep. Let daarop dat die “w” en die “k” nou omgeruil is!
Dokumentverifiëring
Wanneer jy dokumente elektronies ontvang, maak seker dat jy dit vergelyk met ander dokumente wat dieselfde besigheid voorheen aan jou gestuur het. Let op verskille in die maatskappy se logo, registrasienommer, kontaknommers en bankbesonderhede. As jy nog nie voorheen met die betrokke maatskappy sake gedoen het nie, besoek hul amptelike webwerf om die nodige besonderhede teenoor dié op jou dokumente te vergelyk.
SMS-veiligheid
Wat SMS-veiligheid betref, is dit belangrik om te weet dat ondernemings, soos GWK of die VKB Groep, nooit in ʼn SMS sal vra dat jy jou persoonlike inligting moet verskaf nie. Die maatskappy sal ook nooit vir jou ʼn verifiëringskode stuur tensy dit vir ʼn direkte aanmeldversoek is wat jy self aangevra het nie.
Wees ook versigtig vir skelms wat jou oor WhatsApp kontak en jou vra om ʼn kode terug te stuur. Moet nooit aan sulke versoeke voldoen nie.
Deur hierdie riglyne te volg, kan jy jou risiko om ʼn slagoffer van kubermisdaad te word, aansienlik verminder. Geniet jou elektroniese toestelle – maar bly waaksaam!
*Artikel saamgestel deur Mariette Olwagen en Lanie Claassen