Spilpunt-innovering fnuik beurtkrag
Beurtkrag sorg vir vele kopsere in die groter landbousektor en die besproeiingsboere in GWK-bedieningsgebied moet innoveer om vorentoe te beweeg. Een só ʼn produsent is Jurie Loots van die plaas Zwemkuil (Prieska-distrik) wat onlangs ʼn sonkrag-spilpuntstelsel geïnstalleer het.
Die behoefte vir hierdie projek het ontstaan toe Loots sy boerdery wou uitbrei. “Ons het aanvanklik eers met Eskom bevestig dat die lyn wat ons wil gebruik oor genoegsame kapasiteit beskik voor ons die projek aangepak het. Aanvanklik het Eskom die groen lig gegee, maar later is dit egter eers stopgesit weens ʼn kapasiteitsprobleem. Ons moes inderhaas ʼn plan maak en dit is waar ons vandag staan,” vertel hy.
Hooffoto: Die Valley-span maak gereed om die sonkrag-spilpunt op Zwemkuil naby Prieska te installeer.
Die plan was om die totale 50 hektaar uitbreiding ten volle op sonkrag te besproei. “Ons het besef dat daar kragopwekkers ook by die projek ingesluit moet word om te sorg dat ons deurlopend water kan gee,” sê Loots. “”Met die sonkrag alleenlik kan ons 45mm per dag lewer en in die periodes wat die behoeftes meer is, skakel ons saans die kragopwekkers aan.”
Volgens Loots is alle pompe en pyplyne groter ontwerp sodat daar meer water in ʼn korter tydperk besproei kan word. “Ons het ʼn 20mm-pakket hier. Die volumes water is nie te veel vir die grond se vermoë om die water te absorbeer nie.”
Die projek is ook een van die eerstes in die Prieska-distrik en Loots sien uit na wat die toekoms hier inhou. “Hierdie projek is nie iets waarmee ons hier al veel te doen gekry het nie. Ons het ook besluit om slegs batterye op die spilpunt-motors te koppel. Ons gaan nou maar self die lesse hier leer en kyk hoe dit in praktyk werk.”
Die grondvoorbereiding is in volle swang.
Om eerste te wees met hierdie tipe projek was nie ʼn maklike besluit nie. “Die keuse was tussen uitbreiding of nié. Die stelsel kan ook deurlopend aangepas of opgegradeer word. As die dieselprys dit regverdig om eerder nog batterye te koop, kan dit maklik bygevoeg word om die somme beter te laat klop,” meen Loots.
GWK Besproeiing se Matthys Saayman het as projekbestuurder opgetree. Die hoeveelheid nuwe tegnologie wat vir die projek gebruik word, is opwindend. “Op Zwemkuil het ons AgSense-besproeiingstegnologie gebruik,” sê Saayman. “Dit is ʼn afstandbeheerstelsel wat boere help om water te bespaar. VSD (variable speed drive)-tegnologie is manier om die spoed van ʼn besproeiingspomp te beheer, waarmee die produsent water en krag kan bespaar. Komet-besproeiingstegnologie is ʼn tipe spuit wat eenvormige druppelgrootte en watertoediening oor ʼn sekere area verseker.”
Volgens Saayman is Valley-spilpunte beproefde betroubare tegnologie. “Valley-spilpunte is meer duursaam, betroubaar en doeltreffend as hul mededingers. Die Leo-pompe word van hoë gehalte materiaal gemaak en is gebou om vir jare lank goeie diens te lewer,” vertel hy.
Soos met enige nuwe stelsels is daar verskeie aspekte wat oorweeg moet word. “Sonkrag is ʼn goeie opsie vir ʼn statiese stelsel soos mikro, drup of ʼn spuitjie. Met groter spilpunte is ʼn bykomende uitdaging die feit dat dit ʼn bewegende stelsel is, so tyd speel ʼn groot rol. Jurie het nie die opsie gehad om ʼn stelsel in samewerking met Eskom op te stel nie. Op Zwemkuil is daar ʼn onmiddellike besparing van tussen 10 en 15% teenoor ʼn konvensionele spilpunt-ontwerp.”
Valley-produkte is innoverend en betroubaar.
Hierdie stelsel was ʼn eerste vir GWK Besproeiing, maar Saayman glo dit sal meer gereeld in die toekoms geïnstalleer word. “Vir my geld is die mees gepaste oplossing om ʼn kombinasie van Eskom en kragopwekkers te gebruik vir groter bestaande stelsels. Elke produsent se uitdaging is uniek en word so hanteer, maar indien die Eskom-lyne nie die kapasiteit het nie, sal soortgelyke sonkrag-installasies meer algemeen word.”
Kontak gerus vir Matthys Saayman vir enige advies by 053 298 8318 of matthyss@gwk.co.za.
Deur Frans le Roux