SONA 2023: Voedselsekerheid in die weegskaal sonder onmiddellike optrede teen Eskom
Tydens SONA 2023 was dit duidelik dat voedselsekerheid in die weegskaal is sonder onmiddellike optrede deur die regering teen Eskom.
President Cyril Ramaphosa het sy staatsrede vroeër in Februarie gelewer, en die enigste manier om voedselsekerheid in Suid-Afrika te waarborg, is ’n aankondiging van onmiddellike optrede deur die regering en Eskom om die verlammende las van beurtkrag op boere te verlig. Sonder dringende optrede kan Suid-Afrikaners in die nabye toekoms mislukte oeste, hoër voedselpryse en tekorte van sekere produkte verwag. ’n Ramptoestand alleen sal nie hierdie bedreiging afweer nie – wat nodig is, is geteikende verligting.
Beurtkrag het tussen Januarie en September 2022 meer as verdubbel in vergelyking met dieselfde tydperk in 2021. As gevolg van hierdie katastrofe het die landbousektor meer as R23 miljard verloor gedurende die nege maande onder oorsig. Hierdie verlies kan in 2023 oorskry word, wat die volhoubaarheid van die sektor en die 800 000 werkgeleenthede wat dit bied, bedreig.
Gegewe die omvang van die bedreiging, het Agri SA ’n skrywe gerig aan die Nasionale Rampbestuursentrum, waarin die verreikende implikasies van beurtkrag vir graan, vee, pluimvee, vrugte, groente, suiker, eetbare olies ensomeer uiteengesit word. Hierdie bedrywe staan sentraal in die vermoë van Suid-Afrika om sy mense te voed.
Hoewel beurtkrag nie oornag reggestel kan word nie, is daar kritieke korttermynmaatreëls wat ingestel kan word om die impak daarvan op voedselsekerheid te versag.
Agri SA doen dus ’n beroep op president Ramaphosa om te verseker dat die volgende maatreëls onmiddellik in plek gestel word:
- Verklaar die landbousektor en gepaardgaande waardeketting tot noodsaaklike dienste;
- Die landbousektor moet gedeeltelik vrygestel word van beurtkrag ná fase 4;
- Maak voorsiening vir hoër kortings op diesel en petrol wat vir elektrisiteitsopwekking gebruik word;
- Wysig die huidige tariefstruktuur om die koste van elektrisiteit tydens spitstye te verminder;
- Handel beurtkragskedules met behulp van ’n plaaslike uitvoerbaarheidstudie (’n vlakbenadering kan gevolg word deur rooi, oranje en groen te gebruik om kritieke gebiede te identifiseer); en
- Brei vragbeperking* vinnig uit na alle landbougebiede wat daarvoor voorbereid is
Tensy hierdie maatreëls geïmplementeer word, dreig ’n katastrofe vir die land weens beurtkrag. Boerderybedrywighede sal ontwrig word aangesien toerusting beskadig word weens kragonderbrekings; die koste van voedselproduksie sal toeneem namate boere gedwing word om teen spitspryse te besproei; en arbeidskoste sal styg weens onreëlmatige werksure gebaseer op beurtkragskedules. Terselfdertyd sal vleisprodusente nie water vir hul vee kan pomp of hul vee en pluimvee kan slag en verwerk nie. Landbouverwerking en kleinhandel sal ook daaronder ly namate verpakkings- en verkoelingsbedrywighede misluk. Die gevolg hiervan vir voedselbekostigbaarheid en beskikbaarheid sal verwoestend wees.
Agri SA, sy lede, sowel as waardekettingrolspelers werk reeds saam met ’n verskeidenheid belanghebbendes om die volhoubaarheid daarvan te verseker sodat die bedryf kan voortgaan om Suid-Afrika te voed. Maar die regering moet sy rol speel en die omvang van die bedreiging vir die land erken as voedselsekerheid misluk. President Ramaphosa het die geleentheid om die poging te lei om oplossings te vind; hy moet dit die oë kyk.
*Vragbeperking is ‘n reëling wat suksesvol deur Eskom met Bergrivierboere geloods word, waar boere, in ruil vir die verlaging van hul elektrisiteitsverbruik wanneer Eskom hulle vra, nie beurtkrag kry nie.
Deur Agri SA