Prieska se pekan-dag lok produsente
Aprilmaand beteken normaalweg dat Oranjelandgoed se jaarlikse pekanneut-inligtingsdag aangebied word, en in 2023 was dit geen uitsondering nie. Dié Prieska-kwekery het omtrent gewemel met aktiwiteit, wat verskeie uitstallers, produsente en ʼn rits praatjies deur kenners ingesluit het.
Oudergewoonte het die dag se program iets vir elkeen ingesluit. Boordbesoeke, spuitdemonstrasies en pekanneutresultate is met talle produsente gedeel. Vanjaar se hoofspreker was die tegniese landboukundige Rick de Jong (Agro-K) van Kanada. De Jong se praatjie het gefokus op die effektiewe gebruik van kunsmis, asook die belangrike 5 R’e wanneer dit by die toedienning van gifstowwe kom. Die 5 R’e waarna De Jong verwys is:
- Die regte voedingstof
- Die regte tydsberekening
- Die regte vorm
- Die regte mengsel
- Die regte plek
Rick de Jong (Agro-K) was die hoofspreker tydens vanjaar se Oranjelandgoed Pekanneutdag. De Jong is van Kanada en het met die gehoor gesels oor die beste praktyke wanneer dit by die toedienning van gifstowwe kom.
Volgens De Jong is hierdie vrae die basiese beginsels vir produsente wanneer dit by hul gifstofbehoeftes kom. Produsente moet hierdie belangrike vrae beantwoord voor hul met die kunsmistoediening begin. Watter voedingstowwe het my grond en plant nodig? Watter metode sal die doeltreffendste wees? Watter tyd sal die beste impak hê en hoe kan ek my geld verder rek?”
Wanneer die voedingbehoeftes van ʼn gewas bepaal word, bied die gebruik van Agro-K se 5 R’e en die gevolglike relevante vrae ʼn gefokusde benadering wat deur wetenskap ondersteun word. “Ons begin met die grondslag van chemie, plantfisiologie, mikrobiologie en biochemie. Die belangrikheid van sapontledings moenie onderskat word nie,” sê de Jong.
Sapontledings verskaf ʼn venster na die plant se huidige voedingstowwe, watter voedingbehoeftes daar is en watter ander wanbalanse die spesifieke plant mag hê. Agro-K se 5 R’e is die basis vir ʼn holistiese voedingsprogram wat deur wetenskap gedryf word.
Die regte voedingstof
Dit is nie nuus dat voedingstowwe noodsaaklik is vir gewasgesondheid nie. Soos gewasse groei en produsente dit oes, neem die bestaande voedingstowwe in die grond af. Met verloop van tyd benodig die meeste gronde die byvoeging van voedingstowwe om voedingstofverwydering te ondersteun.
Die regte tydsberekening
Tydsberekening is alles wanneer dit by voeding kom. Tekorte aan sekere voedingstowwe kan opbrengs en kwaliteit onherroeplik beïnvloed. Dit kan lei tot kleiner oeste, swak kleur van jou betrokke gewas en selfs meer beperkte rakleeftyd. Dit is belangrik om te onthou dat voedingstoftekorte nie net die huidige oesjaar beïnvloed nie, maar ook toekomstige oeste.
Om gewasse te voorsien van hul benodigdhede op die regte tydsberekening is ʼn sleutelelement van die wetenskapgedrewe benadering wat gevolg moet word. Hierdie strategie gee produsente nie net goeie resultate op die plaas nie, maar verlaag ook kostes aangesien daar geen oortollige produkte toegedien word nie.
Die regte mengsel in die korrekte vorm
Produsente het ʼn paar belangrike geleenthede om hul oes se opbrengs te maksimaliseer, aangesien voedingbehoeftes deur die seisoen verander. Om optimale groei te ondersteun en ʼn bemarkbare opbrengs te ontwikkel, vereis ʼn wetenskapgedrewe benadering wat gebaseer is op die regte mengsel van voedingstowwe wat in die regte vorm gelewer word.
Die regte plek
Wanneer dit by die regte plek op die plant kom om verskeie voedingstowwe by te voeg, het jy twee keuses: om die wortels of die blaar te gebruik. Met slegs hierdie twee keuses is die neem van die besluit makliker, maar steeds belangrik. Besoek Agro-K se webwerf vir meer inligting.
Algemene bestuurder van GWK Pecans, Valdor Dudley het oor die heersende marktendense, markvooruitsigte vir 2023 en GWK Pecans se fasiliteite uitgebrei. Volgens Dudley is die verwagting dat Suid-Afrika ʼn kleiner oes gaan lewer as in 2022.
“Sover lyk die vooruitsigte vir 2023 na ʼn oesskatting van tussen 25 000 en 28 000 ton. Ons verwag dat die kwaliteit aansienlik beter sal wees en dit sal die toetrede van jonger bome wees wat ʼn deurslaggewende faktor op hierdie oes het. Daar behoort ook minder aftrekkings by produsente te wees.”
Oor die neutgroottes en kultivars het Dudley die volgende te sê gehad: “Ná ʼn onlangse besoek aan Chinese kopers was die belangstelling hoofsaaklik in XL- en L-neute. Die vraag na Choctaw-neute vanuit China is beslis laer as dié van Wichita in hierdie stadium.”
Volgens Dudley is daar op die oomblik ook ʼn prysdifferensiaal in China vir die aankoop van Chocraw en Wichita. GWK Pecans het egter reeds ʼn gedeelte van hul begrote volume verkoop. Dit bly moeilik om lang termyn prystendense vanuit China te bepaal.
“Faktore wat wel ʼn groot rol sal speel in prystendense sluit die land se ekonomiese groei, die beweging van die geldeenheid en die pryse van ander neute in. Die Europese kernmark het nog nie herstel nie, maar daar is steeds positiewe tekens dat dit later in die seisoen mag verbeter. GWK Pecans glo dat dit belangrik bly om ʼn kern-markrolspeler te wees, gegewe die sinvolle besigheid wat dit bring. Oor die algemeen is ons positief vir 2023 en veral oor die kwaliteit van neute wat ons aan markte kan lewer.”
Die gehoor wag in spanning vir GWK Pecans se Valdor Dudley.
GWK se hortoloog, Eugene le Roux, het tydens sy toespraak gedeel dat GWK Pecans meer blaar- en grondmonsters oor die afgelope paar jaar bymekaar gemaak het. “Dit is verblydend om die aantal monsters wat ons op rekord het en steeds invorder, te sien. Dit stel ons in staat om goeie akkurate data bymekaar te sit en deurlopend aan te vul. Met hierdie data kan ons dan presies sien wat in ons produsente se grond en pekanneutbome aan die gebeur is.”
Le Roux vertel verder dat hierdie data waardevol is vir GWK Pecans en die produsente. “Dié data stel ons ook in staat om beter ingeligte besluite rondom bemesting te maak, wat dan op sy beurt lei tot besparings. Bemestingskostes bly egter ʼn enorme uitgawe en met die hulp van ons ontledings kan ons dan vir produsente verdere geld spaar.”