El Niño op pad, maar nie so sterk soos 2015-’16
Met die verandering van die seisoen staar landbouprodusente in Suid-Afrika ʼn moontlike verwagte El Niño-weerstelsel in die oë. Hoewel hierdie stelsel normaalweg gepaardgaan met droër toestande, bestaan die moontlikheid egter dat dit nie só ʼn uiterste droogte soos 2015 sal inhou nie.
Die landbousektor staar ʼn magdom uitdagings in die gesig, waarvan die grootste die voortslepende beurtkrag is. Die afgelope drie uitermatige nat seisoene was ʼn vreemde natuurverskynsel, maar dit het produsente in sekere areas in staat gestel om kop bo die spreekwoordelike water te hou. ʼn Volwaardige El Niño-weerstelsel kan rampspoedige gevolge vir Suid-Afrika inhou.
Volgens Johan van den Berg (onafhanklike landbouweerkundige) was die onlangse wydverspreide swaar neerslae ʼn teken van ʼn komende El Niño. “Die neerslae in April en Mei was ʼn teken dat El Niño vinnig ontwikkel en selfs reën tot in Julie kan bring. El Niño gee ook normaalweg reën tot in Augustus en Oktober.”
Wandile Sihlobo (Agbiz-hoofekonoom) sê op sy beurt dat wetenskaplikes ʼn potensiële El Niño-verskynsel bevestig met ʼn waarskynlikheid van meer as 80%. “As dit Suider-Afrika vanjaar intens in die laatwinter tref, kan die droogte van 2015 en 2016 se somer dalk herhaal word. Gedurende hierdie periode het die voorraad van stapelvoedsel soos mielies tot net 8,2 miljoen ton afgeneem – ver benede Suid-Afrika se verbruikersvlakke van 11,8 miljoen ton.”
As gevolg van ʼn aantal nat jare, is Suid-Afrika se grondvog steeds redelik hoog. Sihlobo meen dat hy steeds optimisties is vir die komende oeste. “Die 2023-’24-landbouseisoen behoort steeds goed te wees, hoewel die opbrengste skerp kan daal teenoor die vorige jare. ʼn Mens moet ook ingedagte hou dat daar waarskynlik ʼn groot oes in die wêreldmark gaan wees danksy die verandering in die weerstoestande.”
ʼn Groot styging in voedselinflasie is dalk nie op die kaarte vir 2024 nie, terwyl die moontlikheid van laer as verwagte 2023-vlakke ook bestaan.
Suid-Afrika en El Niño
Volgens Van den Berg het die El Niño-weerstelsel nog nie sterk genoeg ontwikkel om reeds ʼn kenmerkende impak op die komende Junie en Julie uit te oefen nie. Hy vertel ook dat die stelsel se impak verskillend reg oor die wêreld ervaar word.
“Gemiddelde reënval is moontlik vir die wintermaande van Mei tot Julie. Van Augustus tot Oktober kan die sentrale, westelike en suidelike binneland gemiddelde tot bogemiddelde reënval verwag, wat gunstig is vir wintergraanproduksie. ʼn Sterk negatiewe reënvalsein is duidelik vanaf November.”
Indien die weerstelsel sy spits in Desember bereik, kan Februarie en Maart neig na gemiddelde reënval, en kan die tydsberekening van reënval veroorsaak dat produksietoestande nie so sleg gaan wees nie. Dit is egter nog te vroeg om met sekerheid die draaipunt te voorspel.
*Bronne:
Deur Kommuniek-span