Mielie-proefresultate vir 2023
Die beste mieliebasters van elke maatskappy per streek is weer vir die 2022/23-seisoen getoets. Vir die afgelope seisoen is die eerste basters met die PowerCore-geen (PW) ingeskryf deur die maatskappye Pioneer en Pannar. Hierdie nuwe tegnologie het die YHR- asook die BR-tegnologie vervang.
GWK-landboukundiges was verantwoordelik vir die plantproses en om die data korrek in te samel en te verwerk. Personeel van die saadmaatskappye het ook die oesdae bygewoon. Die normale produksiepraktyke van die produsent is gevolg. Die opbrengs van die basters is na 12,5% vog verwerk. Die data word eers beskikbaar gestel vir publikasie nadat die saadmaatskappye dit goedgekeur het.
Deel van die statistiese uitleg van die proewe is ook om kontroles van dieselfde genetika ná elke twee of drie inskrywings te plant. Die doel daarmee is om grond- en dreineringsverskille te neutraliseer. Die data word slegs aanvaar indien die kontroles <15% van mekaar verskil. Die pitte per hektaar waarvoor gemik is, is tydens die jaarlikse beplanningsvergadering ooreengekom met die saadmaatskappye. Dit gebeur soms dat die plantestand bietjie minder of meer as die teikendoelwit is. Daar is verskeie faktore wat dit beïnvloed, waarvan pitgrootte en -vorm waarskynlik die mees belangrike faktore is. Dikwels word ook gesien dat daar twee pitte langs mekaar in die ry geplant is. Dit kom darem nie baie algemeen in die ry voor nie. Die plante word getel deur gebruik te maak van ʼn maatband.
Inligting omtrent die mielieproewe vir die 2022/23-seisoen word in Tabel 1 getoon. Witmieliebasters kon vanjaar slegs geplant word naby Douglas. Die doel hiervan was om gehalte- en opbrengseienskappe van die witmieliebasters te ondersoek.
Die data vir die mielieproewe word in Tabelle 2 tot 10 vertoon. Tabel 8 en 9 is ʼn opsomming van die 2023-data, terwyl Tabel 10 ʼn opsomming is van die prestasie van die basters waarvan twee of meer jaar data beskikbaar is. Vir die nuwe basters met die PowerCore-geen is daar slegs data vir 2023 beskikbaar. Om interpretasie te vergemaklik, word elke baster se prestasie ook as ʼn indeks (% van proef) aangedui. ʼn Indeks van 100 beteken dat die baster dieselfde as die gemiddeld van die proef presteer het. ʼn Indeks van 107 beteken dus dat die baster 7% beter as die proefgemiddeld presteer het. ʼn Indeks van 92 beteken weer dat die baster 8% swakker as die proefgemiddeld presteer het.
Die voordeel vir produsente is dat GWK die evaluasie onafhanklik doen, daarom kan vergelykings getref word met proefdata van die saadmaatskappye. Vir navrae kontak Pierre Ferreira by 053 298 8375/082 904 4769 of e-pos pierref@gwk.co.za.
Bedankings
- Maatskappye wat saad voorsien het en hulp verleen het: Pannar, Pioneer, Bayer, Agricol en Limagrain
- ʼn Spesiale woord van dank aan die produsente en GWK-landboukundiges vir hulp verleen.