Grondboon-proefresultate vir 2023
- Pierre Ferreira
Vir die 2022/23-seisoen is drie grondboon-droëlandproeflokaliteite in die Vrystaat naby Hoopstad, Bothaville en Bulftontein aangeplant. ʼn Aanvullende besproeiingslokaliteit is naby Schweizer-Reneke aangeplant, asook twee vol besproeiingslokaliteite naby Douglas en Bela-Bela. Die proef by Douglas het ʼn unieke geleentheid gebied om die prestasie van die kultivars te meet met ʼn laat aanplanting nadat gars eers klaar gestroop is.
Hierdie studie word jaarliks herhaal met die doel om die beste plaaslike én oorsese kultivars te identifiseer wat sal waarde toevoeg tot die bedryf gebaseer op agronomiese sowel as ekonomiese eienskappe.
Metodiek
Kultivars word eers vir ʼn paar seisoene getoets alvorens besluit word om nie verder met die kultivar voort te gaan nie. Die proefuitleg was ʼn gerandomiseerde blokontwerp met drie herhalings. Die aantal pitte benodig vir elke proefperseel word afgetel. Die houer word dan gemerk met die naam van die kultivar, die lokaliteit en die aantal pitte wat in die houer is. Die saad word vooraf behandel met ʼn swamdoder. Op die dag van plant word die saad ook geënt met stikstofbindende bakterie. Die proewe word geplant met ʼn stootplanter wat spesifiek ontwerp is vir hierdie doel. Die spasiëring in die ry kan ook aangepas word volgens behoefte. Gedurende die seisoen word elke kultivar geëvalueer vir siektes wat gedurende die seisoen mag voorgekom het. Die proefpersele word uit die grond gelig deur gebruik te maak van masjinerie wat die penwortel onder die grond afsny. Die peule word dan verder met die hand van die plante verwyder, waarna dit gedroog word by die aanleg op Douglas.
Vreemde materiaal soos sand, stokke, blare en klippe word verwyder voor die geoesde peule van elke proefperseel geweeg word. Die doppersentasie word dan bereken deur ʼn kilogram peule uit elke herhaling af te weeg, te dop en die saad weer te weeg. Die proefdata word geanaliseer deur gebruik te maak van die program “Genovix by Agronomix Software”. Die voordeel van die program is dat die data op verskeie maniere geanaliseer kan word, wat gebaseer is op “Complete Block Designs”, “Latice Designs” en “Nearest Neighbours”. Die kleinste betekenisvolle verskil (kbv) is bereken by die 5%-peil van betekenisvolheid. Waar twee opbrengste met ʼn groter verskil as die kbv verskil, beteken dit hulle is met 95% betekenisvol verskillend van mekaar en is dus nie toevallig verskillend of as gevolg van grondverskille nie. Die koëffisiënt van variasie (kv) word ook aangedui. Die koëffisiënt van variasie dui die statistiese korrektheid van ʼn proef aan. ʼn Waarde laer as 15 word as statisties goed beskou; met ander woorde: hoe laer die koëffisiënt van variasie, hoe meer aanvaarbaar die proef se akkuraatheid. ʼn Gekombineerde saadmonster van al drie herhalings word dan gegradeer. Die finale resultaat word uitgedruk as inkomste per hektaar met opbrengs en gradering as die bepalende faktore.
Plant- en oesdatums
Rywydtes
Die rywydtes vir die 2022/23 seisoen was as volg:
- Douglas Rietrivier besproeiing: 0,5m
- Schweizer-Reneke aanvullende besproeiing: 1,05m
- Hoopstad droëland: 1,01m
- Bothaville droëland: 0,91m
- Bultfontein droëland: 0,91m
- Bela-Bela besproeiing: 0,90m
Proefuitleg
Tabel 2 toon ʼn voorbeeld van ʼn proefuitleg soos gebruik word.
Resultate en bespreking
Die resultate per hektaar per proef vir die 2023-seisoen word as ʼn inkomste per hektaar, per kultivar, per proef uitgedruk (sien Tabelle 3 tot 8). Die R/ton pitte is ʼn gerealiseerde prys volgens gradering tydens die 2022/2023-seisoen. Die kultivars by elke lokaliteit is gerangskik van die hoogste randwaarde per hektaar tot die laagste. Die lokaliteite by Douglas, Bultfontein en Bela-Bela het die laagste koëffisiënt van variasie gehad. Dit beteken daar was min variasie tussen die drie herhalings.
ʼn Rypheidstoets is op 109 dae ná plant gedoen vir die Douglas-proef wat eers nadat gars in Desember gestroop is, aangeplant was. Die motivering hiervoor was om te bepaal of daar ʼn korrelasie tussen opbrengs, doppersentasie en rypheid is. Soos in Tabel 9 gesien kan word, korreleer die resultate van die rypheidstoets goed met pitgewig en doppersentasie vir Douglas.
Die kultivars Anel, TT006 en TT007 het baie goed gedoen by Douglas met ʼn laat aanplanting. Die kultivars Sellie Plus en 1E307 het by die Bela-Bela besproeiingslokaliteit, asook by die aanvullende besproeiingslokaliteit uit ʼn boorgat by Schweizer-Reneke, goed gedoen. Vir die droëlandlokaliteite het Sellie Plus, TT007 en Anel vanjaar uitgestaan. TT006 het ook goed gedoen by Hoopstad en Bothaville. Vir die Bultfontein-lokaliteit het die Spaanse/Runner-kulivars die beste gedoen. Omdat die resultate by Bultfontein egter nie herhalend by die ander droëlandlokaliteite voorkom nie, moet dit met omsigtigheid hanteer word.
Gevolgtrekking
Die presisie waarmee die proef by Douglas uitgevoer is, kon kultivars suksesvol identifiseer wat ná koring of gars geplant kan word. Die positiewe korrelasie tussen opbrengs, gradering en die rypheidstoets gedoen vóór oes, maak die interpretasie van die resultate makliker. Vir vroeër aanplantings is daar bekender kultivars wat steeds goed doen en ook nuwer kultivars wat op ʼn groter skaal geproef kan word.
Bedankings
- Die produsente by wie die proewe gedoen is en hulp verleen het.
- Die personeel van Triotrade vir die hulp wat verleen is.
- Loureine Muller en Laurika Pansegrouw vir die doen van die graderings en die saamstel van die finale data.
- Die maatskappy Soygro wat die wat die grondboonentstof gratis skenk vir die uitvoer van die kultivarproewe.
- Ons Hemelse Vader vir die gesondheid, talente en beskerming.
*Vir navrae omtrent die proefresultate kontak Pierre Ferreira (082 904 4769)
*Vir navrae om grondbone te plant kontak Francois Cilliers (076 950 7377)