2023 Jongboer oes word ingewag
Agri SA se provinsiale affiliasies rus nie op hulle louere in hulle soeke na die beste jongboer kandidate wat hulle provinsie kan verteenwoordig in die Toyota SA/Agri SA Jongboer van die jaar kompetisie.
Inskrywings vir diè kompetisie word afgewag. Die provinsiale wenners kwalifiseer almal as finaliste uit wie se geledere die nasionale wenner van die kompetisie aangewys sal word.
Die waarde van die jongboer-kompetisie moet nie onderskat word nie! Deur die kompetisie word jong rolmodelle in die landbou gevind wat as voorbeeld vir nuwe toetreders kan dien.
Vrystaat Landbou het reeds hul kandidate gefinaliseer. Ontmoet die kandidate …
Hansie Müller (36, Viljoenskroon) boer reeds die afgelope 18 jaar, waarvan 7 jaar op sy huidige plaaseenheid wat hy self aangekoop het. Hy is passievol oor sy voerkraal en werk saam met sy vrou, Adrie, volgens sy persoonlike leuse, “Not the biggest, but the best”. Benewens die voerkraal, bedryf hy ook ʼn saaiboerdery. Hansie glo dat kinders elke aand ’n bord kos moet hê en is daarom by verskeie gemeenskapaksies in sy omgewing betrokke. Hy is ’n lid van die brandvereniging en is ook by landelike veiligheid betrokke.
Hansie Müller en sy vrou, Adrie.
Hennie Geldenhuys (37, Excelsior) boer in sy woorde ‘reeds van kindsbeen’ af en het ’n liefde en passie vir wat hy doen. Hy glo dat jy die vrugte pluk van jou harde werk en is daarom nie bang om moue op te rol en self in te spring nie. Hennie is die besturende direkteur van die familie stroop kontrakteur onderneming en bedryf ook sy eie saaiboerdery. Hy is deel van die plaaslike veiligheidsektor wat gereeld saam met die polisie patrollie ry. Hy en sy vrou Franciske, ondersteun die plaaslike kleuterskool, kerke en gemeenskapaksies.
Hennie Geldenhuys en sy vrou, Franciske.
Lukas Lessing (26, Marquard) boer al vir 10 jaar en wil niks anders doen nie. Hy meen die feit dat sy pa hom van jongs af betrek het by besluitneming en vryheid gegee het, het positiewe resultate gelewer. Hy is tans die algemene bestuurder van die familie trust. Hy bedryf hoofsaaklik ’n saaiboerdery (mielies, soja en sonneblom) en ’n kleiner veevertakking. Lukas en sy vrou, Marné, is betrokke by hul plaaslike kerk asook die plaaslike aftree oord en Lukas huiwer nie om self plaaspaaie te skraap waar dit nodig is nie. Hy glo daarin dat sy werkers voordeel trek uit hul insette tot die boerdery, dat hulle versorg is en hul werk geniet.
Lukas Lessing en sy vrou, Marné.
Die wenner word op 18 April 2023 in Bloemfontein aangewys en dring outomaties deur tot Agri SA/Toyota SA se Nasionale Jongboer van die Jaar kompetisie .
Is jy die volgende Jongboer van die Jaar? Skryf só in:
Die inskrywingsvorm vir die provinsiale kompetisie kan vanaf Agri SA se provinsiale affiliasies verkry word. Dit is belangrik om op die volgende vereistes te let:
- Die kandidaat moet 40 jaar of jonger wees op die dag waarop die inskrywings vir die kompetisie sluit (datum vir 2023 soos bepaal deur u provinsiale landbou-unie).
- Aangesien die bestuursfilosofie van die boer en die tegniese vaardigheid waarmee dit uitgevoer word die vernaamste beoordelingskriteria is, is die kandidaat se vertakkingsamestelling en omvang (grootte) nie belangrik nie, m.a.w. ‘n vee-/wildboer, saai-/vrugte-/wingerdboer of gemengde boer staan dieselfde kans om as wenner aangewys te word.
- Die kandidaat kan op sy/haar eie boer of in vennootskap met andere. In laasgenoemde geval moet die kandidaat egter spesifieke toegedeelde verantwoordelikhede hanteer waarop hy/sy geëvalueer kan word. Laasgenoemde moet egter die toepassing van die bestuursfunksies (beplanning, implementering en beheer) in al die velde (produksie, bemarking, finansiering en personeelbestuur) insluit, al sou die kandidaat slegs sekere vertakkings op die plaas behartig. ‘n Kandidaat mag slegs as ‘n individu vir die kompetisie inskryf (bv. broers mag nie as ‘n span inskryf nie, maar kan teen mekaar meeding deur as individue deel te neem).
- Die kandidaat moet op die sluitingsdatum vir minstens een jaar lank reeds ‘n opbetaalde lid van sy/haar provinsiale landbou-unie (Agri-SA) wees.
- Nasionale wenners mag nie weer deelneem nie.
- Die beslissing van die beoordelaars is finaal en geen redes/kommentaar sal aan kandidate verskaf word nie.
-Persverklarings