Identifiseer en bestuur soute in besproeiingsgrond
Dries Bloem (GeoLab); Johannes van As (Hulpbronbeplanning en Ontwerp) en Hannes Hattingh
Gronde onder besproeiing kan ʼn verhoging in konsentrasies van verskillende soute ondergaan, omdat daar saam met die besproeiingswater ook soute toegedien word. Die graad daarvan word deur verskeie faktore soos watergehalte, reënval, kunsmistoedienings, besproeiingskedulering en dreinering van grond bepaal. Die gevaar verbonde aan soutophoping kan in twee belangrike afdelings onderverdeel word, naamlik:
- osmotiese probleme; en
- natrium- of magnesiumprobleme.
Hierdie twee moet van mekaar onderskei word deur middel van grondontledings aangesien dit ten opsigte van meganisme van plantskade en behandeling geheel en al van mekaar verskil.
Osmotiese probleme
Osmotiese effek is waar die totale soutinhoud van die grond skade aan die plant aanrig deur die wortels te “brand” (Foto 1).
*Foto 1
Die vlak van totale soutinhoud van grond word in ʼn grondontleding as die elektriese geleiding (EG) in millisiemens per meter (mS/m) gegee. Omdat soute (positiewe en negatiewe ione) elektriese geleiding van ʼn oplossing verhoog, word dit as ʼn maklike meetinstrument vir soute in grond gebruik. Die enigste manier om die EG van grond te verlaag, is om die soute uit die wortelsone te loog. Dit kan deur geskeduleerde oorbesproeiing gedoen word waarvan die hoeveelheid deur die EG in die grond en die drumpelwaarde EG -toleransie van die betrokke gewas bepaal word. Kleigronde of gronde met ʼn ondeurdringbare laag in die ondergrond, wat waterdreinering beperk, kan moontlik loging van soute belemmer en kunsmatige dreinering moet dan teen relatief hoë koste installeer word. Gewasse verskil ten opsigte van toleransie vir soute en EG-drumpelwaardes in versadigde grondpasta, waarbo opbrengs begin afneem, en is as volg:
- Pekanneute: 190 mS/m
- Lusern: 200 mS/m
- Uie: 216 mS/m
- Aartappels: 306 mS/m
- Grondbone: 320 mS/m
- Mielies: 350 mS/m
- Sojabone: 500 mS/m
- Koring: 600 mS/m
- Katoen: 770 mS/m
Navorsing deur GWK en GeoLab het getoon dat een ton/ha gips (20 cm in die grond ingewerk) ʼn styging van ongeveer 40 mS/m in die versadigde grondpasta veroorsaak. Indien grond dus byvoorbeeld reeds ʼn EG-waarde van 350 mS/m het, sou dit teenproduktief wees om gips toe te dien indien mielies geplant gaan word.
Natrium- en magnesiumprobleme
Natrium (Na) en/of magnesium (Mg) word deur klei in grond geadsorbeer en indien te veel Na of Mg geadsorbeer is, word kleideeltjies van mekaar weggestoot (dispergeer). Dit veroorsaak korsvorming, swak infiltrasie en swak deurlugting van grond (Foto 2).
*Foto 2
Indien die ontleding van ʼn versadigde grondpasta ʼn natriumadsorpsieverhouding (NAV) van hoër as 5 aandui, kan daar korsvorming en/of infiltrasieprobleme verwag word. Hierdie probleem kan deur toediening van gips of ammoniumsulfaat aan die grond oorkom word. Die gips (kalsiumsulfaat) los op in die grond en kalsium (Ca) verplaas Na of Mg van die klei af. Dit is baie belangrik dat die oortollige Na of Mg dan uitgeloog moet word, anders bly dit in die wortelsone agter en kan dit makliker deur plante opgeneem word as voor gipstoediening. Ammonium-kunsmis kan ook bydra om Na te verplaas, aangesien ammonium ook ʼn katioon is en dus Na kan verplaas. Ammonium (NH4) word later in die grond na nitraat (NO3) omgeskakel en in die proses bly die H+ -ione in die grond agter. In kalkbevattende grond sal hierdie H+ -ione bydra om kalk (CaCO3) op te los om vry Ca in die grond te vorm, wat dan Na en Mg kan verplaas. Indien daar nie vry kalk in die grond voorkom nie, sal die H+ -ione self ook die Na en Mg kan verplaas. Navorsing deur GWK en GeoLab het getoon dat ammoniumsulfaat besonder doeltreffend is om Na en Mg te verplaas en een ton/ha ammoniumsulfaat is ongeveer ekwivalent aan drie ton/ha gips. Hierdie navorsing het ook aangedui dat gebluste kalk glad nie doeltreffend was om Na en Mg te verplaas nie, aangesien die oplosbaarheid daarvan baie laag in gronde met neutrale pH was.
Dreinering
Goeie dreinering van grond is ʼn voorvereiste in die regstelling van osmotiese- en natrium/magnesiumprobleme. Daar is verskeie opsies vir verbetering van grond dreinering.
- Rigting van rip, bewerking en rye kan sodanig gedoen word dat dit loodreg aan die kontoer is. Dit kan ook saam met afsnydreine en keerwalle gedoen word. Hierdie opsie vereis relatief min ekstra koste. Sien Figuur 1, 2 en 3.
- Bewerking met ʼn implement om sogenaamde moldreine te installeer, wat dan aansluit by afsnydreine of hol vore. Moldrein-konfigurasie, opvolg, diepte, spasiëring en lengtes speel hier ʼn belangrike rol vir doeltreffende dreinering. Hierdie opsie kan ook gedoen word teen relatief lae koste.
- Installering van ondergrondse dreineringstelsels kan as laaste uitweg gesien word teen relatief hoë koste.
*Figuur 1: NDVI-beeld van mielies, voor ryrigting en hol vore geïmplementeer is.
*Figuur 2: NDVI-beeld van mielies, ná implementering van korrekte ryrigting en hol vore.
*Figuur 3: Foto met hommeltuig ná implementering van korrekte ryrigting en hol vore.
Die voordeel van goeie dreinering is nie net vir verwydering van oortollige soute nie, maar ook voorkoming van versuiptoestande, verbetering van gronddeurlugting en minder vasval van spilpunte, trekkers en implemente in lande tydens swaar reën.
Versuiptoestande en ondergrondse dreineringsprobleme kan in baie gevalle verhoed word deur eerstens oppervlakte-afloop aan te spreek met behulp van minimum bewerkingspraktyke, ryrigtings, walle, vore, bane, ensovoorts. ʼn Landbou-ingenieur met die nodige opleiding moet verkieslik genader word vir die topografiese opmeting, beplanning en ontwerp van gepaste stormwater-afloop en dreineringstelsels voordat implementering deur die boer of ʼn kontrakteur plaasvind. Die opvanggebied en landgroottes, reënval, grondfisika en grondhelling/topografie speel onder meer ʼn rol tydens die beplanning en ontwerpfase.
Opsomming
Daar is twee aspekte van versouting van gronde onder besproeiing wat baie duidelik van mekaar onderskei moet word voordat enige behandeling toegepas word. Grondontledings en waarneming in die veld moet gebruik word om vas te stel of dit ʼn osmotiese probleem, of ʼn natrium- of magnesiumprobleem is, en dan moet behandeling en bestuur daarvolgens gedoen word. Toediening van gips en/of ammoniumsulfaat sal voordelig wees vir ʼn natrium- of magnesiumprobleem, maar nadelig vir ʼn osmotiese probleem. Kalktoediening op neutrale of alkaliese gronde is nie doeltreffend nie. ʼn Standaard grondontleding is nie voldoende om soutprobleme te diagnoseer nie en ʼn versadigde pasta-ekstrak moet bykomend gedoen word. Soos vroeër genoem, is goeie dreinering ʼn voorvereiste vir regstelling van soutprobleme in grond.
*Figuur 4
*Figuur 5
*Figuur 6