Boer saam met die klimaat vir vooruitgang

In Oktober 2023 is Veeplaas se tweede suksesvolle Klimaatslim Ambassadeur aangewys en dié eer het Piet Roux (Prieska-skaapboer) toegekom. Die doel van hierdie bewusmakingsprojek is om die invloed van klimaatsverandering onder veeprodusente se aandag te bring en saam volhoubare oplossings te vind.
Sowat 100 belangstellendes het op Roux se plaas Biega bymekaar gekom om die geleentheid in samewerking met Plaas Media by te woon. Roux is bekend aan Kommuniek-lesers en is ʼn oud-direkteur van GWK. Hy boer reeds meer as 33 jaar en hy probeer aktief om jaarliks sy weiding te verbeter. Volgens hom het sy pa reeds vroeg die saadjie geplant dat byvoorbeeld doringbome uitgeroei moet word omdat hulle swaar watergebruikers is. Dié einste water moet eerder na die bossies en grasse gaan sodat die skape kon kos kry.

Louis du Pisani het tydens die demonstrasie van die verkillende ploeg metodes vir die boere die voor en nadele van elkeen uitgewys.
Sedert sy eerste dag op die plaas doen Roux moeite om indringerbosse uit te roei, selfs al affekteer dit sy jaarlikse begroting. Biega het ook heelwat kaal kolle en daar word jaarliks geploeg om kans te gee vir nuwe plantegroei. Roux het verder met die gaste oor sy unieke boerderymetodes gesels, wat onder meer die opdeel van sy plaas in kleiner kampe insluit, asook hoe hy elke grondsoort met sy eiesoortige plantegroei groepeer om sodoende elke deel van die plaas optimaal te kan benut. Hy gebruik die inligting tot sy beskikking en verminder betyds sy diere. Volgens Roux speel reënvalsyfers ook ʼn enorme rol in sy klimaatslimbestuurspraktyke.
“Die versoeking was altyd daar om meer grond aan te koop, maar ek het geweet die verantwoordelike ding sou eers wees om my eie grond so optimaal as moontlik te gebruik. Die onbenutte areas is omskep in goeie weiding, sonder dat dit uitspattig duur was, en kon ek die drakrag verhoog en die uitmergelende sewe-jaar droogte oorleef,” vertel Roux.
Dokter Louis du Pisani (bekende weidingskundige) was die mede-koördineerder en spreker tydens die klimaatslim-dag. Volgens Du Pisani is klimaatsverandering ʼn gegewe, maar nie elkeen verstaan die invloed daarvan nie.
“Stygende temperatuur het ʼn reuse-invloed op boerdery en hoewel dit lyk asof reënval oor die afgelope dekades verhoog het, is die waarheid dat die aantal reënvaldae drasties verminder het. Swaarder buie beteken net dat die water vinniger en makliker wegspoel,” meen Du Pisani.
Die uitwerking van klimaatsverandering kan ook onder vee gesien word en die eerste stap na ʼn klimaatslim-boerdery is om jaarliks voor te berei vir ʼn droogte sodat jou veld die potensiële droogte kan deurstaan en die aantal diere daarop kan voed.
“Temperature neem toe en dit het tot gevolg dat diere meer water moet drink. Terselfdertyd neem reproduksie af. As dit so warm word, neem plante se vermoë om te fotosinteer ook af, wat veroorsaak dat die plante se voedingswaarde verminder. Een van die gevaarligte wat flikker, is die verhoging van koolsuurgas. Die gevolg hiervan is dat bosverdigting toeneem, omdat die meeste indringerbosse in Suid-Afrika op koolsuurgas floreer. Dit is ʼn probleem wat besig is om die oorhand te kry in Suid-Afrika,” sê Du Pisani.
Vir inligting oor die 2024 Veeplaas Klimaatslim-ambassadeurprojek se inskrywings en borgskappe, kontak Deidre Louw by deidre@plaasmedia.co.za (e-pos) of skakel 066 231 2430.
Bron: www.agriorbit.com