‘Goedkoop is duurkoop’: Die verskil tussen waarde en aanbod
Goedkoop is duurkoop, só het die ou mense ons geleer.
Wat beteken dit, en geld dit nog in ons moderne wêreld?
Shannon Ables, aanbieder van die leefstylpodsending The Simple Sophisticate, meen ja, dit geld beslis. Sy verduidelik daar is ʼn verskil tussen ʼn goeie aanbod (“80%-afslag!”, “Twee vir die prys van een!”) en goeie waarde.
Neem jeans as voorbeeld. Jeans gemaak van swaarder denim en langstapelkatoen kos meer, maar jy sal dit jare kan dra, sê Ables. Jy sal dit ook nie heeltyd hoef reg te maak nie. Dít is goeie waarde.
Jeans wat teen spotgoedkoop opgeraap kan word, kan wel gesien word as ʼn goeie aanbod, maar dit gaan moontlik nie te lank hou nie.
Goeie waarde. Goeie aanbod.
Daar is baie fasette aan slim geldbestuur, maar een benadering wat dikwels oorgesien word, sê Ables, is om die verskil tussen waarde en aanbod te verstaan.
As ʼn mens in goeie waarde belê eerder as om voor ʼn goeie aanbod te swig, sê sy, verbeter jy ook jou lewensgehalte. As jy in beter waarde belê, hoef jy nie heeltyd byvoorbeeld jou klerekas of huisware te bly aanvul nie. Jy kan dus minder tyd in die winkels deurbring en meer tyd hê om jou lewe en besittings te geniet. Die etos van goeie waarde bevry jou dus van verbruikersdruk, wat uiteindelik tot ʼn meer vervullende lewe bydra.
Só vermy jy ook knaende onverwagte uitgawes. Wat klere en bykomstighede betref, wil jy byvoorbeeld in gedagte hou hoeveel jy kan spaar as jy die betrokke items langer kan dra.
In sy blog The Old Money Book skryf Byron Tully spaarsamigheid is wel ʼn deug, maar dit beteken volgens hom nie om so min as moontlik geld uit te gee nie. Dit gaan eerder daaroor om wanneer jy wél jou beursie uithaal, seker te maak jy kry goeie waarde vir jou geld.
Tully verduidelik die oorkoepelende beginsel wat hier geld, is ʼn klemverskuiwing van onmiddellike bevrediging na volhoubare finansiële onafhanklikheid. Dit sluit byvoorbeeld ook in om sekere uitgawes uit te stel indien jy weet jy kan later meer bespaar. Vir goeie waarde sluit dit in om ook seker te maak dié items wat jy koop is van hoër gehalte en sal dus langer hou.
Vir Ables gaan dit oor ʼn ingesteldheid van kwaliteit oor kwantiteit, ja. Maar dit het ook alles te doen met wat presies jy nodig het, of wat vir jou belangrik of mooi is.
As jy byvoorbeeld ʼn huis of woonstel aanskaf, het dit beslis sin om jou huiswerk te doen, maar dit gaan nie daaroor om ʼn groot huis te koop net omdat jy dit kan bekostig nie. Dalk sal jy lekkerder bly in ʼn kleiner huis wat minder skoonmaak verg. Die beginsel van kwaliteit behels dus ook om eerlik met jouself te wees oor wat vir jóú belangrik is.
ʼn Ander groot aankoop waar hierdie beginsel te pas kom, is dié van ʼn motor. Volgens Tully moet jy in gedagte hou hoeveel ʼn duurder motor jou byvoorbeeld ekstra aan petrol gaan kos. Weer eens is die punt nie om die duurste nuwe motor te koop wat jy kan nie, maar om te dink wat jy in ʼn motor wil hê en wat dus jou lewensgehalte gaan verbeter. “Die beste waarde” beteken dus nie noodwendig “die duurste” nie. Maar dit sal die beste gehalte wees wat jy kan bekostig binne die raamwerk van wat jy in ʼn motor soek. Dit sal ʼn motor wees wat by jou leefstyl inpas sonder dat jy dit te gou hoef te vervang.
Die beginsel van goeie waarde geld ook vir kleiner uitgawes soos huisdekor of -verbeterings. Nie dat dít altyd goedkoop is nie. Soms kan die pryse hier ʼn mens se oë letterlik laat traan. Ook hier moet jy in gedagte hou hoe goeie waarde jou op lange duur geld kan bespaar.
Maak ook weer eens seker dat jy weet presies wat jy wil koop en hoekom, en moenie net iets koop omdat dit die grootste of duurste op die mark is nie. Hou wel in gedagte dat luukse handelsname dikwels wel sinoniem is met beter gehalte.
Hou ook in gedagte, sê Ables, dat met iets soos kombuistoebehore dit ook belangrik is om ʼn waarborg by te koop waar moontlik. Op dié manier kan jy die item laat regmaak of vervang indien nodig.
Wat dekor betref, sê sy, moet jy jou afvra of dit jou plesier verskaf, perfek by die res van jou dekor inpas, en tot jou gemak en vrede bydra. Dan is dit goeie waarde en verkieslik bo minder betaal vir iets wat nie vir jou ewe mooi is of ewe goed in jou betrokke ruimte werk nie. Buitendien, koop jy nou die goedkoper item, sal jy meer geneig wees om dit vinniger te vervang met iets anders wat jou oog vang en vir jou beter werk. Op die ou end betaal jy maar dieselfde. Kies eerder mooi en koop van die begin af die duurder item wat vir jou perfek is.
Koop een keer, koop goed, en geniet dit dan vir ʼn lang tyd, sê Ables. Dis die wysheid waardeur sy haar laat lei.
- Mariette Olwagen
(Hooffoto: Designed by Freepik)