Wat is winter-alternatiewe vir koring?
Die mees suksesvolle produsente is dié wat die beste beplan en eerlike somme maak. Die afgelope paar seisoene was wintergewasse onder druk en het die klimaat ʼn groot rol in die resultate gespeel. Die laer-as-verwagte inkomste het veroorsaak dat ondersoek ingestel word na alternatiewe wintergewasse. Die belangrikste alternatiewe gewasse wat oorweeg word, is kanola en voer-erte. In die besluit rondom die “nuwe” gewasse moet daar gekyk word na die geleenthede, uitdagings en die ekonomie van die gewasse.
Geleenthede vir kanola en erte
Onkruidbeheer: Kanola en erte is breëblaargewasse en ideaal vir gewasrotasie waar gras-onkruide ʼn probleem raak. By breëblaargewasse kan onkruiddoders met ʼn ander aktiewe bestanddeel (mode of action) gebruik word om die grasse te beheer en sodoende kan die saadbank verlaag. Peste en plae soos Fusarium kan onderdruk word deur breëblaargewasrotasie. Laasgenoemde veroorsaak dat die lewensiklus van die peste en plae onderbreek word.
Wortelstelsel: Kanola en erte is gewasse met diep wortelstelsels. Kanola het ʼn penwortel wat tot op 1 meter ontwikkel, terwyl erte-wortels tot op 1,2 meter kan groei. Daar word gevind dat die voordeel van die gewasse tot twee jaar ná die aanplanting steeds in koring waargeneem word. Erte is ʼn peulgewas met die voordeel dat stikstof gebind word en in die grond beskikbaar is vir die volgende seisoen.
Bemesting: Kanola reageer soos ander kleingrane op bemesting. Stikstof en swael is die belangrikste voedingselemente in die produksie van optimum opbrengs. Kanola is gevoelig vir boor- en molibdeen-tekorte. Die sink-, koper- en mangaan-behoefte is hoër as by mielies.
Voer-erte is ʼn peulgewas en vorm Rhizobiums wat stikstofbindend is. Goeie grondvrugbaarheid is nodig by die aanplant van erte. Voer-erte is gevoelig vir sink- en mangaan-tekorte, maar minder sensitief vir lae koper- en boor-vlakke.
‘* Effektiewe Rhizobium sal voldoende stikstof bind.
‘** Rhizobiums is baie sensitief vir soute; vermy chloor sover moontlik, veral in die plantvoor.
Uitdagings in die aanplant van kanola en erte
Grondbewerking: Kanola en ertjies het diep wortelstelsels en grondverdigting kan die ontwikkeling van die gewasse benadeel; die ophef van verdigting voor aanplanting word dus aanbeveel. Kanola het ʼn baie fyn saad van tussen 280 000 en 320 000 sade per kilogram. Die kanolaplant se groeipunt is, in teenstelling met graangewasse, reeds net ná opkoms bokant die grondoppervlakte sigbaar. Die saailing is dus baie kwesbaar vir insekteskade en waaiende sanddeeltjies.
Plantproses: Dit is baie belangrik dat kanola-saailinge gelyktydig bo die grond verskyn en sodoende ʼn uniforme stand verseker. Uniforme opkoms verseker uiteindelik dat uniforme rypwording plaasvind met minimum pitverlies tydens oes. Die optimum plantdatum is vroeg in Junie om ʼn lang groeiperiode te verseker. Die optimum blomperiode is in September terwyl kanola gevoelig is vir temperature bo 30°C tydens die vroeë peulstadium.
Voer-erte word gedurende Julie gevestig, begin blom ná 30 tot 50 dae, en word teen die einde van November gestroop.
Temperatuur: Kanola vereis matige klimaat met ʼn optimum temperatuur van 21°C. Kanola is redelik bestand teen ryp. Temperature van laer as -3 tot -4˚C vir groot gedeeltes van die nag gedurende die saailing- en blomstadium kan wel skade veroorsaak. Kanola blom oor ʼn lang periode – die plant blom tot ses weke lank. Bestuiwing en bevrugting van blomme op die hoof-bloeisteel behoort egter binne 14–21 dae voltooi te wees. Die effek van rypskade in ʼn kort periode kan verminder word deurdat daar gereeld nuwe blomme ontwikkel. Temperature bo 30°C kan bestuiwing onderdruk en hitte tydens vroeë peulvorming kan veroorsaak dat peule nie volledig vul nie.
Voer-erte vereis ʼn matige klimaat met ʼn optimum tussen 13 en 21°C. Voer-erte is redelik bestand teen ryp en kan temperature tot -10°C (afhangende van die kultivar) oorleef. Ryptoestande tydens blom kan egter peulvorming vertraag. Hoë temperature tydens blom kan saadset onderdruk. Tydens saadvul kan hoë temperature lei tot verhoogde stysel- en veselinhoud, wat afgradering van pitte tot gevolg kan hê.
Kultivars: ʼn Wye spektrum van kanolakultivars is beskikbaar en dae tot blom kan wissel van 70 tot 120 dae. In Suid-Afrika word hoofsaaklik lente-tipe kanola aangeplant. Die omskakeling vanaf vegetatief na reproduktief word beïnvloed deur dagliglengte en temperatuur. Kultivars word hoofsaaklik op grond van hul groeiseisoenlengte geklassifiseer en dit kan wissel tussen ultra-kort (<78 dae tot blomtyd), kort (78 – 85 dae tot blomtyd), medium (86 – 95 dae tot blomtyd) en lang groeiseisoenkultivars. Voer-erte-kultivars wat in Suid-Afrika aangeplant word, blom op 60 – 64 dae en is op 90 – 94 dae fisiologies ryp. Die kultivars is geteel teen omval en is bestand teen Fusarium-verwelk.
Peste en plae
Aalwurms: Voer-erte is uiters sensitief vir aalwurm en twee behandelings (bespuitings), veral tydens blom is noodsaaklik.
Insekbeheer: Verskeie insekte het pes-status by kanola. By kanola en voer-erte is die mees belangrike faktor die beheer van bolwurm tydens die ontwikkeling van peule. Bolwurms moet vroeg reeds goed beheer word, aangesien ʼn enkele bolwurm-letsel op ʼn peul van 1 sentimeter sal aanleiding gee tot afsterf van peul. Bolwurms moet onmiddellik ná waarneming beheer word en kan binne 2-3 dae ʼn groot deel van die oes vernietig. Luise is een van die grootste peste wat by voer-erte voorkom.
Onkruidbeheer: Kanola en voer-erte is egter gevoelig vir mesotrioon en triasien (Atrasien). Versigtigheid is nodig waar mielielande die voorafgaande gewas was, waar die produkte met ʼn nawerkingsperiode van tot 18 maande gebruik is.
Kanola en voer-erte is gevoelig vir onkruidkompetisie, veral tydens vroeë ontwikkelingstadiums. Plante wat swak ontwikkel, is meer vatbaar vir peste en plae.
Oesproses: Kanola vorm peule wat onder warm toestande kan oopspring. By kanola geld die 80/20-beginsel: peule ontwikkel oor ʼn tydperk en die land moet gereeld ondersoek word vir wanneer 80% van die pitte swart is. ʼn Monster van 10 plante met 4 tot 5 peule per plant moet geëvalueer word. Die plante is gewoonlik in dié stadium nog groen en blare moet doodgespuit word. Vandag is slegs Dicamba 500SL geregistreer vir ontblaring. Peule behoort binne 3-7 dae ná bespuiting oesgereed wees. Kanola het ʼn oesindeks van 15 tot 35%; ʼn opbrengs van 4 ton/ha kan dus reste van 12 tot 20 ton/ha agterlaat.
Voer-erte is gereed vir oes as die blare begin vergeel, die onderste peule begin droog raak en die pitvog wissel tussen 16 en 18%. Laat-oes kan aanleiding gee tot verrotting van peule en peule wat oopspring.
Ekonomie van gewasse
Uitdagings bestaan rondom die lewer van kanola en voer-erte. Op die oomblik moet kanola in Krugersdorp gelewer word. Kanola-graan is baie klein en gespesialiseerde voertuie soos kanteltrokke moet gebruik word.
Die uitdaging by voer-erte is dat lewering aan slegs twee prosesseerders geskied en kan slegs aangeplant word as ʼn kontrak vooraf gesluit is.
Produksie-ekonomie is bereken en in Tabel 2 saamgevat. Data vanuit GWK Landboubestuursinligting en Profarmer is as basis gebruik.
Die gemiddelde koringopbrengs van fokusklante vir 2023 was 7,80 ton/ha. Die “bruto wins” by 7,8 ton/ha is volgens Profarmer ongeveer R7 600 per hektaar. Met die “bruto wins” as basis moet die produsent 4,19 ton/ha kanola stroop om met koring te kompeteer. In die geval van voer-erte moet ʼn opbrengs van 3,87 ton/ha gestroop word om koringinkomste te klop.
Opsomming
Koringopbrengste was die laaste jare onder groot druk en die silo-gemiddelde het gedaal. Nuwe gewasopsies bestaan, maar produsente moet versigtig wees om haastige besluite te maak. Die aanbeveling is dat produsente kyk om “probleem”-lande , soos met grasprobleme, wortelsiektes en Fusarium, te oorweeg vir gewasrotasie, waarvoor kanola en voer-erte in die winter ʼn opsie is. Produsente moet egter eers klein oppervlaktes probeer om die uitdagings van die gewasse uit te klaar. Natuurlik is vroeë mielies ook ʼn opsie waar die risiko’s te groot raak vir die verbouing van koring en gars.