Klimaatstudies identifiseer nege feite oor SA landbou
In 2021 en 2022 het drie instansies in die privaatsektor kragte saamgespan om ’n reeks gesagvolle klimaatstudies oor Suid-Afrika te voltooi. Hul navorsing identifiseer nege feite oor SA landbou wat relevant is tot die bestuur van koolstofvrystellings in dié sektor.
Die doel van die National Business Initiative (NBI), Besigheidseenheid Suid-Afrika (BUSA), en die Boston Consulting Group (BCG) se studies was om die sogenaamde Regverdige Oorgangsbedeling en Klimaatsuitkomiste vir Suid-Afrika (Just Transiition and Climate Pathways Study for South Africa) te ondersoek. In hul verslag word ‘n hele hoofstuk toegewy aan koolstofverwydering in die plaaslike landbou-sektor. Die hoofstuk, getiteld Decarbonising the Agriculture, Forestry and Other Land Uses Sector in South Africa, identifiseer nege sleutelbevindings ten opsigte van die Suid-Afrikaanse landbousektor.
1. ’n Kwesbare sektor
Die Suid-Afrikaanse landbousektor is besonder kwesbaar vir die risiko’s wat verband hou met klimaatsverandering. Ten einde voedselsekuriteit te verseker en volhoubaar gesonde voedsel aan alle Suid-Afrikaners te kan bly lewer, en die sektor se sosio-ekonomiese bydrae vol te kan hou, moet ’n klimaats-veerkragtige landbousektor ontwikkel word.
2. Warmer én natter teen 2050
Na verwagting sal globale klimaatsverandering Suid-Afrika besonder nadelig raak. In terme van lae- en middelmatige versagtingsmodelle, word voorspel dat Suid-Afrika se binnelandse temperatuur teen 2050 met gemiddeld 2–4°C sal styg, wat nagenoeg dubbel die verwagte wêreldwye styging is. Gemiddelde reënval kan met tot soveel as 60mm per jaar afneem in die meeste van die westelike en noordelike streke van die land.
3. Nóg watertekorte in die Wes-Kaap en Noord-Kaap
Uitvoerverdienste, plaaswerkers se lewensbestaan en voedselbeskikbaarheid word bedreig, veral in die Wes-Kaap en Noord-Kaap waar grootskaalse watertekorte weens klimaatsverandering verwag word. Nagenoeg 95% van Suid-Afrika se uitvoer-sagtevrugte word in dié twee provinsies verbou wat ongeveer 25% van die nasionale landbouverdienste en 35% van nasionale landbou-indiensneming verteenwoordig.
4. Klimaatsaangepaste diere- en plantspesies
Op plaasvlak kan aanpassings gemaak word soos om klimaatsaangepaste diere- en plantspesies te teel of kweek. Brand- en pesvoorkomingsisteme kan meer veerkragtigheid bied, doeltreffender produksie lewer en gemiddelde koolstofvrystellings per eenheid verminder. Op sisteem-vlak sal verbetering in watergebruiksmonitering en -verspreidings infrastruktuur, data-gedrewe landbouwatertoedeling en toeganklike moniteringsinligting ten opsigte van verwagte klimaatsgebeure krities wees om klimaatsveerkragtigheid te verseker.
5. Verbetering van uitbreidingsdienste
Ten einde effektief te kan aanpas sal dit ook krities wees om meer kapasiteit te bou onder boere en om uitbreidingsdienste te verbeter. Dit sal minstens ‘n verdubbeling van die navorsings- en ontwikkelingsbestedingsteikens in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) behels, en die ontplooiing van aanvraag-insentiewe (byvoorbeeld marktoegang in ruil vir veerkragtige werkswyses), asook die beskikbaarstelling van gemengde finansieringsmeganismes, vereis.
6. 10% van Suid-Afrika se koolstofvrylatings
Die landbou, bosbou en ander grondgebruik sektore dra ongeveer 10% tot Suid-Afrika se algehele koolstofvrylatings by. Die bydraes deur veeteeld is ongeveer 75%, kunsmis 18% en brandstofgebruik 7%. Aanpassingsstappe kan sommige van die vrystellings verminder, maar ’n beduidende hoeveelheid vrystellings sal steeds bly bestaan. Groter koolstofvermindering sal meer ingrypende mitigeringsvereistes verg.
- Gegewe Suid-Afrika groeiende bevolking, mag die voedselaanvraag met ongeveer 50% toeneem teen 2050. Dit sal die landbou, bosbou en ander grondgebruik sektore se huidige basisvrystellings met ongeveer 40% laat toeneem sou bestaande voedselverbruikspatrone gehandhaaf word.
- Nieteenstaande daarvan of dieet-gewoontes mag verander of nie, bly die aanwending van beste-praktyk boerdery die doeltreffendste manier om vrystellings te verminder en veerkragtigheid te bou. Beste-praktyk lewende hawe gesondheid-, voer-, misstof- en aantelingsbestuur kan jaarlikse vrystellings tot en met 19% laat afneem.
- Selfs met die gebruik van beste landboupraktyke teen 2050, en met volhouding van huidige dieetpatrone kan vrystellingsvermindering van slegs ongeveer 40% bereik word. Die vermindering van die oorblywende beraamde 16–39 Mt CO2e per jaar sal slegs aangespreek kan word deur meer ontwrigtende metodes, byvoorbeeld hidroponika of kunsmatig-vervaardigde vleis.
7. Minstens 170% meer sojaboonverbouing
Om ’n volhoubare, gesonde dieet aan alle Suid-Afrikaners te kan voorsien, sal daar teen 2050 ’n toename van minstens 170% in sojaboon- en groenteverbouing vereis word en ’n toename van ongeveer 20% in sagtevrugte produksie (selfs al word uitvoerproduksie na plaaslike voedselaanvraag herlei). Dit sal die herprioretisering van grondgebruik vir kommoditeite wat meer gehard is met digter-voedingswaardes verg asook invoerstrategië vir meer styselagtige stapelvoedselbronne waarvoor verminderde aanvraag verwag word.
8. Koolstof-intensiewe diëte is goedkoper in Suid-Afrika
’n Regverdige oorgangsbedeling moet volhoubare en gesonde diëte vir alle Suid-Afrikaners moontlik maak. Volhoubare, gesonde diëte se koste is ongeveer vier keer meer as die gemiddelde (ongesonde) Suid-Afrikaanse dieet en ongeveer 1,5 keer meer as die goedkoopste gesonde, koolstof-intensiewe diëte in Suid-Afrika. Maatreëls om ’n klimaatsveerkragtige nasionale voedselbron te bou kan ook lei tot verhoogde produksiekostes. Dit is daarom noodsaaklik om bekostigbaarheid van toekomstige voedselproduksie te verseker.
9. Ondersteun kleinskaalse produsente
Om ’n regverdige oorgangsbedeling te verseker, moet kleinskaalse produsente ondersteun word om hul produktiwiteit te verhoog en om landbou en besigheidsvaardighede te bekom. Dit vereis verbeterde uitbreidingsdienste en klimaatsmonitering, toegang tot finansiering en insentiewe vir die gebruik van volhoubare praktyke. Plaaswerkers sal nuwe werksgeleenthede benodig. Landbou-afhanklike gemeenskappe moet geïdentifiseer word en planne moet gemaak word om ekonomiese geleenthede te diversifiseer.
Die NBI studie is ’n belangrike brondokument vir die bepaling van Suid-Afrika se beleidsposisie ten opsigte van klimaatsverandering, veral wat betref die debatte rakende koolstofverwydering in die mitigering van die oorsake daarvan. Agri SA neem konstruktief aan hierdie beleidsvormingsporsesse deel ten einde ’n optimale bedeling vir die landbousektor te verseker.
– Deur Janse Rabie