Die somerseisoen in perspektief
Soos die somerseisoen van 2022/23 op sy einde is, is ons produsente besig om die laaste aanplantings te stroop en is dit altyd goed om ʼn terugblik op die seisoen te gee.
Die seisoen het afgeskop met droëlandboere wat vroeg kon begin plant vanweë genoegsame grondvog. Besproeiingsboere met winterkoring het eers later hulle somergewasse geplant, omdat swaar reën laat in 2022 die koringstropery vertraag het.
Produsente het ook die seisoen begin deur insette teen baie hoë pryse te moes aankoop. Kunsmispryse was in Oktober 2022 R48,56, R78,56 en R43,70 per kg onderskeidelik vir stikstof (N), fosfate (P) en kalium (K). Dit was omtrent die hoogste prys vir die seisoen en het van daar af afwaarts geneig, soos deur Grafiek A getoon word.
Landboukommoditeitspryse het dieselfde tendens gevolg. Dit was weer slegter nuus vir produsente, aangesien insette teen hoë pryse aangekoop is, maar graan op laer pryse gelewer is, wat later in die seisoen die norm was.
Tabel A toon die verskil tussen pryse wat ʼn produsent vasgemaak het tydens Januarie teenoor ʼn produsent wat Julie prys vasgemaak het. Die produsent wat tydens die hoë pryse aan die begin van die jaar vasgemaak het, het ʼn omset van R14 044,29 per hektaar meer as die produsent wat in Julie vasgemaak het.
Die kommoditeitspryse toon ʼn afwaartse tendens, soos gesien kan word in Grafiek B. Die afwaartse neigings is grootliks as gevolg van:
- Afkoel van die hoë kommoditeitsprys-siklus wat al sedert Covid-19 pryse ondersteun het.
- China se gedempte toetrede tot die wêreldekonomie.
- Brasilië wat met ʼn mielie-oes van 133 miljoen ton sit, waarvan hulle beweer 50 miljoen uitvoerbaar kan wees. In perspektief tot wêreldhandel, voer China elke jaar 25 miljoen ton se mielies in.
- Suid-Afrika, wat moontlik met die tweede grootste oes ooit op hande sit: die grootste mielie-oes was in 2017 met ʼn tonnemaat van 16,82 miljoen. Die verwagting vir dié jaar is ʼn oes van 16,35 miljoen ton. Dit plaas afwaartse druk op pryse, aangesien oordragvoorraad volop is.
(Bronne: Dalevest, Landbou.com, Bureau of Metereology, USDA)
In die Noord-Kaap spesifiek het boere goed gevaar, selfs al was daar stremmende periodes vroeg in die seisoen en self ryp in April. Vrese dat erge verliese gely sal word met hoë fases van beurtkrag tydens mielies se kritieke stadia, het gelukkig nie gerealiseer nie. Volgens die NOK was daar 43 500 hektaar se geelmielies aangeplant in die Noord-Kaap en ʼn gemiddelde opbrengs van 15 ton is behaal. Hierdie syfer is uitstekend aangesien daar nie onderskeid getref word tussen die skattings van besproeiings- en nie-besproeiingshektare nie.
Landbouprodusente kan hulle self gelukwens met die goeie hantering van ʼn moeilike somerseisoen. Ons hoop dat die vernuf deurgetrek kan word in die huidige seisoen in en dat die waardevolle lesse onthou sal word.